TRUIDA KESTELL/KINDERSORG PRE-PRIMÊR

Elke kind wil graag sy/haar eie fiets hê! Daar is natuurlik vereistes:
- ’n saal om op te rus;
- twee stewige bande vir balans;
- ’n ketting om als glad te laat verloop;
- twee pedale om aan die gang te kom;
- ”handlebars” om die regte rigting in te neem.
 
By TKS-Kindersorg Pre-primêr ry ons 165 gelukkige leerders baie fiets. Almal wil altyd ‘n beurt he, maar daar is ook die figuurlike betekenis! Ons leer graag:
- Jesus is ons saal – ‘n stewige rusplek en bron van krag. Ons leerders se geestelike groei is vir ons belangrik.
- Net soos bande, kry sport en kultuur ook aandag, vir ‘n goeie, gebalanseerde leerder. Ons doen atletiek, rugby, netbal, edukwanda en ons sing en maak musiek!
- Ons akademie is ons trots, maar soos ‘n fietsketting soms afval, word dit soms opsy geskuif om plek te maak vir ander aktiwiteite. Ons stel ons leerders bloot aan dit waartoe die omgewing ons lei.
- Motivering en ‘n positiewe selfbeeld, net soos met pedale, dryf ons leerders tot emosionele ontwikkeling.
- Ons vyf gekwalifiseerde, toegewyde personeellede moet dikwels rigting aanwys, sodat ons nie te veel val en seerkry nie, tog leer ons uit ons eie foute. Hulle glo ook aan interaksie tussen die leerders en ouers.

Ja, fietsry is baie pret, en by Kindersorg leer ons terwyl ons speel!

Geskiedenis:

In 1969 het daar ‘n behoefte ontstaan en is ons skool gestig in ‘n ou huis in Lindleystraat met lieflike vyebome. Die huis is verkoop en ons is toe tydelik gehuisves in ‘n pragtige huis met ‘n groo-oot stoep in Commissionerstraat.

In 1984 verhuis ons na ons pragtige toegeruste skool in Louwstraat 40 wat ons gekoop en betaal het, ‘n ideale skool, met lieflike bome waarin ons klouter en speel. Moderne badkamers, lieflike ruim lokale met net die mooiste en lekkerste opvoedkundige speelgoed, wat ook gereeld aangevul word. Buite is ‘n speelterrein toegerus met heerlike klim- en klouterapparaat, fietsbaan, sandput, “rugbyveld”, pophuis, ensovoorts.

2010 het ons ‘n ooreenkoms bereik met Truida Kestell Primêre Skool wat ‘n blok van ons af is. Ons werk heerlik saam. Die Graad R’e het weekliks rekenaars en edukwanda daar. Ons gebruik hulle sportvelde vir rugby- en netbaldae. Die Graad R’e neem deel aan hul sangfees en ry met hul groo-oot bus na ons uitstappies!

Die gemeenskap is deeglik bewus van ons bestaan, want ons reik uit en gee om vir die samelewing. Net soos ons buurskool is ons ryk aan tradisie – menige pa en ma wat self hier was, laai hul kleuters hier af! Ons dank ons Hemelse Vader vir elke dag se genade en seën oor ons skool.

Select