Dit is met groot hartseer dat Truida Kestell Maandag verneem het van mnr. Van der Merwe se heengaan. Dié van ons wat so bevoorreg was om hom as skoolhoof te hê of wat op sy personeel gedien het, bring graag aan hom die eer wat hy verdien.

Ons sal hom onthou as ‘n formidabele skoolhoof, groot van gestalte en groot van gees. ‘n Godsman was hy inderdaad vanweë sy absolute respek vir God en sy gebod. Die geestelike sang in die saal waartydens die leerlinge spontaan in stemme gesing het, het op een en almal ‘n onuitwisbare indruk gemaak. ‘n Akademiese-reus en ewige student was hy voorwaar. Tot op 92-jarige ouderdom spreek hy nog taalkwessies in dr. Anton Prinsloo se rubriek, Taal-kruie, in Volksblad aan. Hy was ‘n kranige tennisspeler en ‘n sportliefhebber.

Mnr. Van der Merwe het oor die gawe beskik om mense met integriteit om hom te skaar, sy personeel en leerlinge saam te snoer en ‘n baie sterk samehorigheids-gevoel te bewerkstellig. Hy het Truida Kestell se leuse “My huis, my skool, my land” baie sterk by die leerlinge gevestig en patriotisme bevorder. Sou enige Suid-Afrikaner ‘n buitengewone prestasie behaal, sou die kenmerkende Truidjie-handeklap dié persoon vereer.

Mnr. Van der Merwe het geweet wat kwaliteit is en daarom was hy ook ‘n kwaliteit-mens. Hy het graag sosiaal verkeer en mense om hom vergader. Daarom was hy oral waar hy gekom het geliefd en bemind, want niks kon sy fyn sin vir humor onderdruk nie.

Sy stem het stil geword. ‘n Seder het geval. Ons eer sy nagedagtenis en in ons harte is ons ryk omdat sy pad ons s’n gekruis het.

 

Select